Sunday, October 26, 2008

Hallo Sagrada Familia, sien jou in 2026

Op reis is daar plekke wat mens sien, net om te hoop jy sien dit weer, eendag.

Barcelona bou die afgelope 120 jaar aan 'n katedraal, die Sagrada Familia. Hulle vorder fluks, hoop om in 2026 klaar te wees. Dis 'n 'labour of love', befonds deur die duisende toeriste wat dag na dag deur die halfklaar gebou stroom.

Dis ook 'n soort huldeblyk aan Gaudi, die argitek-ikoon van Barcelona. Wat beteken dat behalwe vir die gotiese torings van die gebou, dit ook tierlantyntjies met keramiekteels, golwende fasades en akkedisse het.
Wat op enige ander plek ter wereld hopeloos mal sou lyk, maar in Barcelona so tuis soos biltong in Benoni is.

Ons arriveer tien-uur die oggend, terwyl die oggendmis nog aan is. Dit word gehou in een hoek van die Sagrada, tussen die bou-toerusting, gips-vorms en scaffolding. Mens sien dit nie gebeur nie; dis verskuil agter plankafskortings. Die singende stemme skep 'n half-uit-plek atmosfeer, asof engele hard probeer om kerk te skep uit die chaos.

Soos alle groot katedrale van die wereld is die Sagrada indrukwekkend. Buite is die afwerking eklekties, binne nog meer asemrowend as die Duomo wat ons 'n week terug in Milaan gesien het. Meer indrukwekkend omdat die geometrie meer doelbewus, wetenskaplik, vloeiend is. G'n wonder die kerk is op verskillende stadiums deur ideologiee en standpunte van die dag veroordeel as godslasterlik nie.

Terwyl ons deurstap, nekke gekrink om die grootsheid in te neem voel dit skielik of ons terug is iewers in Europa vyf eeue gelede, in die heyday van katedraalbou. Vir 'n oomblik beleef ons die grootsheid van alles wat die mensdom ingesit het om iets van so skaal te bou in dae sonder elektriese bore en betonmengers, 'n proses wat tgoe ook leeftye geneem het, nog meer as in die geval van die Sagrada.

Klaar deurgestap, op pad na die parkie oorkant die straat vir middagete bevestig ons kopknikkend dat ons gaan terugkom oor twintig jaar, net om te sien hoe Barcelona vorder.

Of dalk, as als goedgaan, hoe 'n klaar Sagrada lyk, in 2026, 100 jaar na Gaudi se dood.
Posted by Picasa

No comments: