Friday, October 31, 2008

Venisie, dag een...

...en hoe beter om te begin as met 'n twee-smaak roomys. Maak nou nie saak of dit yskoud is en honde en katte reen nie (dit doen, en is), maar 'n pistachio en aarbei horinkie is 'n ritueel wat ons nie hier sal misloop nie. Lam-in-die-kniee lekker!

En waarna ons weer terug is uit in die reen, soos ware toeriste, sambrele in die hand. Ons is nerens eintlik heen nie, net rondgedwaal in Venisie se eindelose gangetjies, stilgestaan by eiendomsagentskappe (R2-4m vir 'n eenslaapkamer-woonstel) en ons verkyk aan die winkeltjies wat so eie aan Venisie is - pottebakkery tot drukkerytjies en koper-ornamente, en die alomteenwoordige Venisiese maskers.

Teen twee-uur was ons albei behoorlik papsopnat ten spyte van die sambrele. Voor huistoegaan het ons eers in 'n kafeetjie gestop vir 'n pizza en 'n glas rooiwyn. Die pryse was nie te sleg nie, maar die eienaars van die plek blyk toe Chinese Venisiers te wees. Dus was die pizza maar, sal ons se^, Chinees-Venisies. Eetbaar, maar nou nie vars uit Mama se kombuis nie.

Ons hotel is 'n hele ent van die hooftoeloop van toeriste in 'n stil deel van Venisie, 'n hanetree van die naaste Vaporetto-stasie af. Ons't gistraant aangekom sonder probleme, en is heel gelukkig met die kamer, wat tipies Venisies gemeublieer en versier is - ligblou gordyne en beddegoed, goue, fensie spieelraam en Murano glas plafonlig. Als lyk of dit nie te lank terug nie oorgedoen is, baie netjies en skoon. Ontbyt was die gewone Italiaanse affair - koffie, croissante, konfyt, en natuurllik, 'n Italiaanse onbyt is nie volledig sonder sjokolade-smeer nie.

Venisie voel steeds soos 'n tweede tuiste. Die rustigheid is tasbaar, die verloop van die lewe waarskynlik getemper deur die eeue waartydens nie veel omwenteling anders as nuwe straatlampe gebeur het nie (Venisie is nog nooit in onlangse heugenis deur oorlog geteister nie). En natuurlik Internet, gratis in die hotel, waaroor ons baie bly is. Dit het gehelp om ons bietjie op te voed.... iets in die lug het gese^ more is 'n vakansiedag, en na 'n gegoogle het ons uitgevind dis 'All Saints Day' more, en Sondag 'Day of the Departed'. Amper soos Halloween, maar meer heilig. Dankie tog...
Posted by Picasa

No comments: