Tuesday, October 21, 2008

Wiele!

Wonder bo wonder, 'n huurplek in die dorp het hulle oor ons ontferm en ingestem om ons 'n kar te huur vir 'n dag. Wat beteken dat ons na brekfis in ons hemelblou Fiat Panda gespring en begin het om die omgewing te verken.

Teen ses-uur die middag, toe ons die kar moet teruggee, het ons 'n streep besienswaardighede gesien en 'n goeie beeld gekry van hierdie deel van Sardinie wat hoofsaaklik uit plase bestaan wat olywe, wingerde en vrugte verbou. Dis 'n omgewing wat herinner aan Oudtshoorn tot by Calvinia. Dis droog hier, se^ die mense, selfs die normaalweg geharde plantegroei sukkel. Dis bergagtig, en al die paaie wat ons ry slinger tussen valleie en oor berghange, van een stil dorpie tot die volgende.

Ons stop 'n ruk in Orgosolo, 'n dorpie wat vir homself naamgemaak het as 'n 'kunsdorp' nadat kunstenaars jare gelede muurskilderye met 'n sterk politieke en sosiale bookskap oral in die dorp geverf het. Dis as't ware 'n opelug kunsmuseum, en te oordeel aan die busvragte toeriste wat daar aankom, heel gewild. Ten spyte hiervan het Orgosolo als behalwe die aura van 'n toeristeplek. Daar's net een klein curio winkel, niks byderwetse kafees nie, en die koeldrank wat ons by 'n kafeejie drink kos helfte van wat dit elders kos. Die plek voel nog soos 'n 'rerige' Sardiniese dorpie.

Vroegaand eet ons aandete op ons hotelkamer se stoep - druiwe, kaas, brood, en 'n eg Sardiniese bier. Daar's 'n sterk bries, en die see praat harder saamS as gewoonlik. More begin ons die terugtog Alghero toe, weereens met openbare vervoer, weereens 'n avontuur....
Posted by Picasa

No comments: