Sunday, October 19, 2008

Milaan tot Sardinie

En so is ons toe gaap-gaap drie-uur die oggend weg by Hotel Nettuno in Pedinostraat, tien minute se stap van Centrale stasie waar ons die Autostradale bus kry vir die uurlange rit Orio Lughawe toe. Behalwe vir die enkele laatnagverliefdes was die strate doodstil, so die stap het vinnig gegaan. Albei van ons het 'n uiltjie op die bus geknip om die vier ure slaap wat ons vroeer ingekry het by te werk, so chop-chop was ons by die lughawe.
Om Ryanair te vlieg is 'n ritueel wat amper voel soos om skoonouers te vra: 'n groot, hol kol op die maag voor die tydoor tasse wat te swaar gaan wees. Buitendien is Ryanair bekend vir hul humorlose check-in personeel, so ons verwag altyd die ergste. Maar vanoggend was die gode van vlieg ons genadig - geen tou mense, tasse binne die gewigsgrens, en voor jy kan se^ 'budget airline' sit ons en wag om aan boord te gaan, 'n hele uur en twintig minute te vroeg.

Die negentig minute vlug het goed verloop. Alghero se lughawe is klein maar modern en goed georganiseer. Eers het ons twee goeie caffe lattes geniet by 'n kafeteria en toe 'n motor te huur gaan soek. Ongelukkig wil niemand ons 'n kar huur sonder 'n internasionale lisiensie nie - wat ons nie byderhand het nie. Ons was verbaas want dis die eerste maal dat motorhuurplekke so-iets vereis. Wat ons dus sonder 'n kar laat, iets wat ons nie opgereken het nie.

Ons hotel is heeltemal op die teenoorgestelde kus van die eiland - omtrent twee uur se ry - so ons voorland is dus busry.

Die vriendelike toeristekantoorbeampte het ons mooi verduidelik watter busse om te neem, waar ons hulle kry, en so aan. Ons neem 'n minibus tot op die dorp Nuoro, en daarna 'n plaaslike bus tot op die kusdorp Cala Gonone, waar ons die volgende drie nagte gaan oorstaan.

Als gaan goed tot op Nuoro se busstasie. Dis 'n interessante, oninteressante plek, 'n groot teerblad met 'n enkele - toe - kaartjieskantoor en jare se graffiti op die mure. Dis so stil soos net 'n Italiaanse dorpie rondom siesta tyd kan wees. Doodstil. En g'n bus in sig nie.

Niemand weet einlik wanneer die volgende bus vertrek nie, maar dit klink na omtrent twee-uur die middag, wat ons so uur van rondsit gee.

So skeef na twee kom die bus aan, en begin ons die laaste skof Cala Gonone toe. Die rit is interessant, veral omdat mens oor 'n berg, of eerder met 'n tonnel deur 'n berg ry, en dan ver met 'n bergpas afry tot by die see. Baie skilderagtig, baie mooi.

Cala Gonone is 'n vakansiedorpie wat bestaan uit 'n oulike klein hawetjie, 'n streep hotelle langs die see af, en 'n paar dosyn pizza-restaurante. Ons hotel is nie meer as vyftig meter van die strand af nie, en kyk uit oor die hawe. Dis soos Margate, maar Meditereens.

Ons gebruik die res van die middag om die dorp te verken, strand toe te stap, en uit te vind oor bootritte en ander dinge om te doen. Later die aand, terwyl ons op ons stoep sit en luister na die golwe - golfies! want dis die Middelandse See hierdie - is dit moeilik om te glo ons was vanoggend nog in Milaan.

En hier sit ons nou in Sardinie, tussen see en berg.
Posted by Picasa

No comments: