Tuesday, October 28, 2008

Miro in die reen

Dit reen in Barcelona.

Dit het begin toe ons op die dak van die Casa Battlo staan en onsself verkyk het aan die vloeiende lyne van Gaudi se geteelde skoorstene. Van vroegdag was die weer grys, maar dit het net voor ons daar aangekom fyn sproeisels begin neersak. Toe ons 'n uur of wat later die Casa uit is om die Metro na die Miro Museum te haal was dit deeglik sambreelweer.
Dis nou agt-uur die aand, en reen nog steeds. Hard.

Aangekom by die Miro Museum staan die ry mense wat wag om kaartjies te koop reeds so honderd meter ver by die deur uit. Reeds gewoond aan hierdie verskynsel by al die bekende toeriste aantreklikhede in Barcelona, val ons maar in die ry. Ons word stadig natter, al doen Adeline als om albei van ons sowel as die donkerskop meisie voor ons in die ry droog te hou.
SO veertig minute later kom ons uiteindelik onderdak, deurnat. Nogal snaaks dat die Museum nie iets doen om mense wat rystaan droog te hou nie - sekerlik is deurweekte mense wat soos nat hoenders die deur inkom nie so 'n seldsame verskynsel hier rond nie?

Nietemin is die Miro Museum soos ander Europese kunsplekke uiters goed georganiseer, goed gemerk en toegerus, wat natuurlik'n peperduur kafeteria en aandenkingwinkel insluit. Dit vat ons verder ook tien minute om uit te vind mens moet 'n een Euro munstuk in die sluitkassie se slot sit voor jy dit kan gebruik. G'n mens weet eintlik hoekom nie, want jy kry dit weer terug as jy jou goed uithaal as jy klaar is met jou besoek. Snaaks.

Daar's redes hoekom die oorgrote meerderheid van kunstenaars wat 'n paar strepe op papier trek - 'abstrakte kuns' maak - nie museums in hul naam het nie. Dit het te doen met staying power net soveel as met insig, tegniek, en daardie een persent geluk (ryk mense wat jou kuns aanhang en koop). Die skilder Joan Miro se kuns werk, behalwe vir 'n paar glipse hier en daar. Om abstrakte, 'deurmekaar' kuns te kry om te 'werk' moet die kyker 'n plan kan sien, een wat dikwels dekades, of 'n leeftyd neem om na vore te kom in die werk van 'n kunstenaar. 'Jy kan ook so teken', se^ Adeline op 'n stadium, terwyl ons na 'n 'deurmekaar' werk staan en kyk. Seker, se^ ek, maar hy het, en ek nie (Ek skryf in my notaboek: Begin werk aan museum.). Dis nie so eenvoudig nie, maar 'n leeftyd van skilder, beeldhou en 'n sielsverhouding met jou kuns opbou laat mens hier respek kry vir die man.

En duisende mense stroom deur die museum, te oordeel aan die menseverkeer hier. Ek wonder hoeveel 'doen' die museum omdat dit aanbeveel word in die Barcelona gidse, die toeriste-busse reg voor die deur stop, of iemand in die familie gehoor het Miro is 'goed'. Ander doen dit waarskynlik vir hul spruite se onthalwe. Almal hier kan beswaarlik kunsfundis wees.

In ieder geval, besluit ek waar ek sit en een van die skilder se draderige tekeninge 'ontleed', dis gaaf van iemand om sy indrukke van die werklikheid, met saamgaande gevoelens en visuele insigte, hier vir die nageslag te laat, waar dit vir almal wat wil te siene is, en nie in 'n hogere se sitkamer hang as 'n trofee of afshowstuk nie. Immers vertel meer as een van die beskrywings teen die muur van Miro se pogings om 'physical reactions' of 'imagination' by die kyker te skep.
En ja, dit werk, Miro.

Ten spyte van die reen was ons stap na die Miro-ervaring ligter en varser, asof ons geweet het ons het iets gekoop wat wag om weer, en weer, en weer oopgemaak te word as ons tuis is. Herinnering is immers die beste deel van 'n kunsmuseum besoek, en iets wat mens saam huistoe neem na 'n kuns-pelgrimstog.
Posted by Picasa

No comments: